Avenida Paulista
Die Avenida Paulista is 'n gesogte laan in die stad São Paulo, Brasilië (Paulista is die demoniem wat gebruik word vir mense wat in die deelstaat van São Paulo gebore is).[1] Die hoofkwartiere van baie finansiële en kulturele instansies is in Paulistalaan geleë. Omdat die laan as 'n simboliese sentrum van ekonomiese en politiese mag in São Paulo dien, is dit reeds sedert 1929 dikwels die fokuspunt van verskeie politiese optogte wat steeds in die 21ste eeu voortgaan.[2] Dit is ook die tuiste van 'n uitgebreide inkopiedistrik en Suid-Amerika se mees omvattende kunsmuseum, Museu de Arte de São Paulo. Aangesien dit deel is van een van die hoogste areas in São Paulo, is die area ook oortrek met radio- en televisie-antennas, waarvan die TV Gazeta die prominenste is. Paulistalaan is 'n groot spilpunt van busroetes en ondergrondse treine wat ook die begin en einde van die laan verbind.
Ligging
wysigDie laan strek 2,8 km en loop noordwes na suidoos. Die noordwestelike punt is in Praça Marechal Cordeiro de Farias (pt) by die kruising met Rua da Consolação en die suidoostelike punt is Praça Oswaldo Cruz (pt) by die kruising met lane Treze de Maio, Bernardino de Campos, Desembargador Eliseu Guilherme en Dr. Rafael de Barros. Paulistalaan kruis deur dele van die buurte Paraíso, Bela Vista (pt), Jardim Paulista, Cerqueira César (pt) en Jardim América (pt), en eindig in Higienópolis.
Konstruksie
wysigPaulistalaan is in 1891 deur Joaquim Eugênio de Lima (1845-1902) gebou, 'n Uruguaanse-Brasiliaanse siviele ingenieur.[1] Dit was eens op 'n tyd die residensiële buurt van die stad se koffiebarons en industrie entrepreneurs soos die Matarazzo-familie, omring deur weelderig versierde herehuise met Arabesk en Europese temas. Paulistalaan 1 het aan die Von Bülow-familie, die stigters en bestuurders van die Antartica Brouery, behoort. Dit het ook in 1909 die eerste geplaveide straat in die hele São Paulo geword. Asfalt is later van Duitsland ingevoer om die projek te voltooi.
'n Meesterplan vir die laan getiteld Plano de Avenida (Laanplan) is deur burgemeester Francisco Prestes Maia in 1930 gedurende die regime van president Getúlio Vargas bewerkstellig. Dit was gebaseer op David Burnham se meesterplan vir Chicago, en het probeer om die stedelike groei van São Paulo te beheer. Die plan het die desentralisasie van stedelike areas, die ontwikkeling van motorroetes, en die konstruksie van lae koste, hoë-digtheid behuising ingesluit.[2] Die eerste multi-verdiepinggebou op die laan was 'n sewe-verdieping struktuur op die hoek van Paulista en Frei Caneca wat in 1939 gebou is. Die belangrikste van die geboue wat nog staan tot vandag toe is Casa das Rosas, naby Praça Osvaldo Cruz aan die begin van die lang laan. Dit is in die laat 1980's in 'n kulturele sentrum omskep. Die huis het olie/hidrouliese hittestralers, 'n luukse wat net die miljoenêr kon bekostig.
Verwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 Balderston, Daniel, ed. (2000). Encyclopedia of contemporary Latin American and Caribbean cultures. New York: Routledge. p. 125. ISBN 9781134788521.
- ↑ 2,0 2,1 Frers, Lars; Meier, Lars, eds. (2007). Encountering Urban Places : Visual and Material Performances In the City. Aldershot, England Burlington, VT: Ashgate. pp. 84–87. ISBN 9780754649298.
Eksterne skakels
wysigWikimedia Commons bevat media in verband met Avenida Paulista. |
- Avenida Paulista Geargiveer 20 April 2010 op Wayback Machine