Curiosity-verkenningstuig
Curiosity is 'n kernaangedrewe verkenningstuig ("dwaalrobot") wat deur NASA op 'n verkenningstog na die planeet Mars gestuur is. Curiosity is op 26 November 2011 as deel van NASA se Mars Science Laboratory-sending saam met 'n MSL-ruimtetuig gelanseer en het op 6 Augustus 2012 suksesvol in die Gale-krater op Mars geland. Teen $2,5 miljard (sowat R20 miljard), is dit die mees ambisieuse en duurste Marssending ooit.[1]
Die verkenningstuig is so groot soos 'n kleinerige motor. Dit is 3 meter lank en weeg amper 'n ton (900 kg). Ingenieurs moes noodgedwonge nuwe maniere bedink om dit te laat neerdaal. Vir die eerste keer is kabels gebruik om die tuig binne in 'n groot krater af te hys.
Omdat Curiosity van 'n plutoniumbattery voorsien is, kan hy 24 uur per dag werk, en is nie soos sy voorgangers Spirit en Opportunity van sonkrag afhanklik nie.
Doelwitte
wysigVir die volgende twee jaar sal die verkenningstuig in rotse in-boor en grond opskep. Die vier doelwitte van die verkenningstog is:
- Bepaal of Mars in die verlede lewe kon ondersteun;
- Bestudeer Mars se klimaat;
- Bestudeer Mars se geologie; en
- Win inligting in vir 'n beplande menslike verkenningstog na Mars.
Landing
wysigVolgens Nasa het die Curiosity-verkenningstuig 'n bykans perfekte landing uitgevoer. Hulle analise van die data wat die verkenningstuig teruggestuur het aangaande die landing dui aan dat die binnekoms in Mars se atmosfeer, daling en landing baie naby aan, of presies op die berekende tye plaasgevind het. Die tuig het net 2,4 kilometer van sy beplande landingsgebied tot stilstand gekom. Dit het slegs 7 minute en twaalf sekondes geduur vandat die tuig die boonste deel van Mars se atmosfeer getref het, totdat dit finaal tot stilstand gekom het op die oppervlak. Nasa het bereken dat dit 7 minute sou duur, 'n tydperk waarna hulle as sewe minute van angs ("seven minutes of terror") verwys het.
Curiosity se pantserkapsule het Mars se atmosfeer teen 'n spoed van Mach 24 (24 keer die spoed van klank) bereik, en het binne drie en 'n half minute gerem tot Mach 2 ten einde sy supersoniese valskerm oop te maak. Die meeste energie van die spoed is as wrywing deur die atmosfeer geabsorbeer. Die Mars-verkenningstuig, wat om die planeet wentel, het 'n foto geneem van die tuig met die ontplooide valskerm terwyl dit na die oppervlak neerdaal.[2]
In die laaste fase van die landing, is die tuig uit sy kapsule gelaat en het met behulp van 'n vuurpylaangedrewe hyskraan afgesak tot op die oppervlak. Blaasmerke van die vuurpyle kan op 'n foto, wat deur die tuig geneem is, gesien word.[3] Nadat die tuig geland het, het die hyskraan weer opgestyg en 40 sekondes later op 'n veilige afstand van 600 meter neergestort. Foto's wat deur Curiosity geneem is, toon die oomblik van impak toe die hyskraan neergestort het, aangesien een foto 'n stofwolk wys terwyl 'n ander foto wat 45 minute later van dieselfde gebied geneem is niks wys nie.
Nasa reken daar is twee redes hoekom Curiosity 2,4 kilometer van sy beplande landingsgebied geval het. Die een is weens 'n regstelling in die rigting van die daling aan die einde van die tuig se reis na Mars, en die ander is weens sterk winde van agter. Nasa reken egter hulle kan in die toekoms selfs meer akkurate landings uitvoer.[4]
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ Nasa se Curiosity land op Mars, Nuus24, 6 Augustus 2012
- ↑ Curiosity Spotted on Parachute by Orbiter Mars Science Laboratory: Images
- ↑ Traces of Landing Mars Science Laboratory: Images
- ↑ Curiosity rover made near-perfect landing BBC 12 Augustus 2012
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Curiosity-verkenningstuig.