Savanne-olifant

Die bekendste van die twee Afrika-olifante

Die savanne-olifant (Loxodonta africana) is die swaarste en die tweede hoogste landdier ter wêreld. Dit is die bekendste van die twee Afrika-olifante. Die ander is die Afrika-woudolifant (Loxodonta cyclotis), wat oorspronklik as 'n subspesie van dié olifant beskou is, maar tans oorwegend as 'n aparte spesie erken word.

Savanne-olifant
'n Savanne-olifant naby die grens van die Serengeti- en Ngorongoro-bewaringsgebied in Tanzanië
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Animalia
Filum: Chordata
Klas: Mammalia
Orde: Proboscidea
Familie: Elephantidae
Genus: Loxodonta
Spesie:
L. africana
Binomiale naam
Loxodonta africana
(Blumenbach, 1797)
      verspreiding van die Afrika-olifante (2007), d.w.s. L. africana en L. cyclotis

Identifikasie

wysig
 
Savanne-olifante steek die Luangwa-rivier oor in die Luangwa-Suid- Nasionale Park, Zambië

'n Volwasse olifant het 'n gemiddelde hoogte van 300 tot 340 cm en 'n massa van tussen 6000 en 7000 kg. Die omtrek van die voorpoot kan verdubbel word om 'n benaderde aanduiding van die dier se hoogte te gee. Olifante hou egter nooit op groei nie en 'n manlike dier kan tot 450 cm hoog word. Die vroulike diere (koeie) is kleiner as die bulle en kan 'n maksimumhoogte van 300 cm bereik. Die savanne-olifant het 'n grys vel wat met swarte hare bedek is, maar verdwyn namate die olifant ouer word en volwassenes is meestal haarloos. Die vel is tussen 2 en 4 cm dik, maar vlieë, muskiete en ander parasiete kan dit steeds deurdring.

Hulle enorme ore is ongeveer 120 tot 125 cm in deursnee. Benewens sy grootte, is die olifant ook om sy ongewone neus bekend: 'n lang, beenlose slurp van ongeveer 150 cm. Die slurp weeg omtrent 135 kg en het twee vingeragtige eindpunte wat só behendig is dat dit selfs 'n grashalm kan optel. 'n Olifant se slurp is ook baie sterk: dit kan ongeveer 250 tot 275 kg optel. Savanne-olifante het ses tande: vier kiestande en twee snytande. Tydens die olifant se leeftyd word sy kiestande drie keer vervang, namate die ouer stel afgeslyt word. Die twee snytande ontwikkel tot die twee kenmerkende "olifanttande", wat ongeveer 245 tot 250 cm lank is en elk ongeveer 60 kg weeg.

Die savanne-olifant het 'n loopspoed van 10 km/h, maar wanneer hy storm kan hy 'n spoed van 40 km/h bereik.

Habitat en verspreiding

wysig

Vroeër was savanne-olifante deur die hele Afrika versprei, behalwe vir die droogste dele van die Sahara en die reënwoudgordel van Wes- en Sentraal-Afrika. Tans is hulle in Noord-Afrika uitgestorwe en word hulle slegs in 'n handjievol plekke in Suid- en Wes-Afrika aangetref. Stropers en die vernietiging van hul habitat het 'n aansienlike daling in die bevolkingsgetalle aangerig en die diere is nou tot nasionale parke en wildreservate beperk. Die olifant word meestal in grasvlaktes en savannes aangetref.

Dieet

wysig

Olifante is herbivore en verkry die nodige voedingstowwe van blare, wortels, bas, grasse en vrugte. Hulle verorber elke dag tussen 100 en 300 kg voedsel en drink tot 190 l water. Hulle sal slegs moerasplante vreet wanneer daar geen ander uitweg is nie, siende dat hierdie soort plante baie min voedingstowwe bevat. Dié plante is wel sagter as die ander soorte en ou, sterwende olifante word dikwels in moerasgebiede gevind aangesien hulle minder tande oor het en dié plante dus makliker kan kou.

Voortplanting en lewensduur

wysig
 
'n Savanne-olifant steek die Zambezirivier oor in Zambië se Mosi-oa-Tunya- Nasionale Park. Die slurp word soos 'n periskoop bokant die water uitgesteek om asem te haal.

Paring kan enige tyd van die jaar plaasvind, wanneer die koei op hitte is. Sy is telkens 22 maande dragtig waarna een kalfie gebore word (tweelinge kom seldsaam voor). Die kalfie weeg tussen 120 en 130 kg tydens geboorte. Kalfies is in staat om in 'n kort tydjie na geboorte reeds te sien, ruik en loop. Die koei se spene is tussen haar voorbene gesetel en die kalfie soog aan haar met sy bek, maar gebruik sy slurp om water te suip. Die kalfies soog soms ook aan koeie wat aan hul moeder verwant is. Die koeie kalf elke vier tot nege jaar. Die bulle is konstant op soek na nuwe maats en bly slegs 'n paar weke by die koei en haar trop. Die trop bestaan uit verwante koeie en jong bulletjies wat almal help om na die kalfies om te sien. Puberteit begin tussen 10 en 13 jaar; op hierdie ouderdom verlaat die jong bulle die trop op soek na paringsmaats, maar 'n olifant se dogters sal hul hele lewe in die trop van hul moeder deurbring.

'n Savanne-olifant het 'n verwagte lewensduur van tussen 65 en 70 jaar: dit is een van die langste lewensduurtes van al die soogdiere. 'n Benaderde ouderdom kan geskat word deur 'n olifant se hoogte met dié van die stammoeder te vergelyk, of die snytande te meet. Ander, meer ingewikkelde metodes, sluit die weeg van die dier se ooglens in, maar dit kan slegs uitgevoer word kort na 'n olifant se dood. Ouer olifante het hol wange en oë en hulle ore is meer na die kop toe gevou.

Die oorgrote meerderheid olifante sterf as gevolg van stroping, maar 'n olifant kan ook vrek wanneer dit van 'n hoogte val of 'n geveg met 'n ander olifant verloor. Hulle is ook vatbaar vir 'n aantal siektes, soos artritis (gewrigsontsteking), tering of bloedsiektes soos septisemie (bloedvergiftiging).

Wetenskaplike klassifisering

wysig

Vroeër was die bos- of woudolifant (Loxodonta cyclotis) saam met die savanne-olifant as subspesies van Loxodonta africana beskou (destyds L. africana cyclotis en L. africana africana respektiewelik). 'n Onlangse genetiese ondersoek het egter bewyse gelewer wat daarop dui dat dié twee olifante verskillende spesies is wat reeds die afgelope 2,5 miljoen jaar onafhanklik ontwikkel. Die genetiese ondersoek ondersteun die bestaande redes vir die skeiding van dié twee spesies, naamlik die aansienlike morfologiese en gedragsverskille.

Fotogalery

wysig

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. Gobush, K.S.; Edwards, C.T.T.; Balfour, D.; Wittemyer, G.; Maisels, F.; Taylor, R.D. (2022). "Loxodonta africana". IUCN Red List of Threatened Species. 2022: e.T181008073A223031019. doi:10.2305/IUCN.UK.2022-2.RLTS.T181008073A223031019.en. {{cite journal}}: Onbekende parameter |amends= geïgnoreer (hulp)

Bronne

wysig
  • (af) Soogdiere van die Krugerwildtuin en ander Nasionale Parke (1979). Saamgestel deur Die Nasionale Parkeraad. 'n Publikasie van die Raad van Kuratore vir Nasionale Parke van die Republiek van Suid-Afrika. ISBN 0-86953-027-5.
  • (en) Norwood, L. 2002. "Loxodonta africana", by Animal Diversity Web.

Eksterne skakels

wysig
  NODES
Done 1
orte 4