Boomplantdag

dag waartydens individue en groepe aangemoedig word om bome te plant en te versorg

Boomplantdag is 'n nieamptelike gedenkdag waarop mense bome plant. Dit word in baie lande gevier en skoolkinders neem dikwels deel.[1] Alhoewel dit gewoonlik in die lente plaasvind, hang die presiese datum van die klimaat en plantseisoen van die plek waar dit waargeneem word af. Op die dag word bosbou en bome in die algemeen beklemtoon, terwyl die gevare van bosbrande uitgelig word. Dit is 'n gulde geleentheid om 'n nuwe boom te plant, een te borg of om voeding en kompos by bestaande bome by te werk.

Vrywilligers plant 'n boom op boomplantdag.
Groter bome het 'n lekker diep gat nodig.
Die boom is pas geplant. Genoeg kompos is bygewerk.
Moenie vergeet om jou boom nat te gooi nie.

Bome is van kardinale belang vir die mens se voortbestaan. Dit bekamp lugbesoedeling, vervaardig suurstof, help om koolstofdioksied uit die atmosfeer te verwyder. Dit voorkom ook erosie, verskaf skaduwee en help dat vog stadiger uit die grond verdamp. Die hout van bome word gebruik om papier, meubels, geboue en bote te maak.

Oorsprong

wysig
 
Monument vir die eerste boomplantdag in 1805 in Spanje.

Die eerste gedokumenteerde boomplantfees is in 1594 in die Spaanse dorpie Mondoñedo gehou, waar die burgemeester dit georganiseer het. 'n Nederige merker van graniet roep die gebeurtenis in herinnering.

Die eerste moderne boomplantdag het egter eers in 1805 in die Spaanse dorp Villanueva de la Sierra plaasgevind. Dit was 'n inisiatief van 'n plaaslike priester, wat entoesiasties deur die bevolking ondersteun is.

Die eerste Boomplantdag in die Kaapkolonie was op Vrydag 25 Julie 1886 op voorstel van Langham Dale. Elke onderwyser en senior leerling moes op daardie dag 'n boom plant en die daaropvolgende jaar daarvoor sorg. Sowat 50 000 bome is op daardie dag geplant. Boomplantdae is ook die twee daaropvolgende jare gehou. Dale het onder ander die aanplant van heinings van hakea voorgestel.

Suid-Afrika

wysig

Nasionale Boomplantdag is van 1945 tot 2000 in Suid-Afrika gevier, waarna die regering dit na 'n Nasionale Boomplantweek, gewoonlik van 1-7 September (die eerste week van die lente), uitgebrei het. Twee bome word gekies, 'n algemene en 'n skaars soort, en uitgelig om openbare bewustheid van inheemse bome te verhoog. Verskeie "groen"-aktiwiteite word ook deur skole, besighede en ander organisasies van stapel gestuur.

Die meeste aktiwiteite word deur die Departement Waterwese en Bosbou gereël. Die organisasie Kos en Bome vir Afrika (Food and Trees for Africa) gebruik ook hierdie week om mense in arm gemeenskappe te leer om tuine wat kos kan voorsien te vestig en in stand te hou.[2]

Bome wat al as boom van die jaar gekies is, is die treurbruidsbos (Pavetta lanceolata), doppruim (Pappea capensis), gewone wildepietersieliebos (Heteromorpha arborescens) en die Bosvaderlandswilg (Combretum kraussii).

Sien ook

wysig

Verwysings

wysig
  1. HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
  2. Nasionale Boomplantweek in Suid-Afrika Geargiveer 27 Februarie 2017 op Wayback Machine, besoek op 25 Februarie 2017

Eksterne skakels

wysig
  NODES
languages 1
mac 1
os 13