Groepsdruk

Wanneer een sosiale groep druk op 'n bepaalde persoon uitoefen om hul gedrag te verander

Groepsdruk is die benaming wanneer een sosiale groep (gewoonlik van dieselfde ouderdom) druk op 'n bepaalde persoon (of kleinere groep) uitoefen om hul gedrag te verander sodat dit met dié van die groter groep ooreenstem. Dit kan sowel positief of negatief wees afhangende van die bepaalde onderwerp, voorkeure in musiek en kleredrag of uitkyk op die lewe.

Groepsdruk (of sosiale druk) is die direkte invloed wat 'n mens se portuurgroep op hom of haar uitoefen. Groepsdruk vind plaas wanneer 'n individu aangemoedig word om sy of haar portuur se voorbeeld te volg deur houdings, waardes of gedrag te verander om by dié van die individu of groep wat invloed uitoefen, te pas.

Groepsdruk lei daartoe dat 'n individu se optrede verander in reaksie op 'n gevoel van druk deur 'n portuurgroep.

Daar is heelwat navorsing gedoen oor groepsdruk se uitwerking op kinders en tieners, en in die populêre diskoers word die term meestal in die konteks van daardie ouderdomsgroepe gebruik. Die algemene navorsingstemas wanneer dit by kinders kom, is hul vermoë om onafhanklik besluite te neem, terwyl navorsing onder adolessente grootliks op die uitwerking wat groepsdruk op seksuele gedrag en dwelmmisbruik het fokus. Groepsdruk kan individue van alle etniese groepe, geslag en ouderdomme egter beïnvloed. Dit word nie meer bloot gedurende persoonlike interaksie uitgeoefen nie, maar ook op digitale platforms. Sosiale media bied geleenthede vir adolessente en volwassenes om groepsdruk op 'n daaglikse basis te ervaar. Navorsing dui daarop dat nie net individue nie, maar ook organisasies soos groot korporasies, vatbaar is vir groepsdruk, soos die druk van ander maatskappye in hul bedryf of van die hoofkantoor.

Kinders

wysig

Nabootsing speel 'n belangrike rol in kinders se lewens. In hul soeke na vaardighede en tegnieke om in hul eie lewens toe te pas, hou kinders die gedrag en gesindhede van die mense rondom hulle fyn dop. Kinders is van jongs af bewus van hul posisie in die sosiale hiërargie: hulle onderwerp hulle instinktief aan volwassenes se oordeel en die meerderheid se opinie.

Soortgelyk aan die Asch ooreenstemming-eksperimente, het 'n studie oor groepe voorskoolse kinders getoon dat hulle deur hul maats beïnvloed is om hul mening na 'n duidelik verkeerde een te verander. Elke kind het 'n boek ontvang met twee stelle foto's op elke bladsy – groepe van verskillende groottes diere op die linkerkant van die bladsy en een dier op die regtekant – en elke kind is gevra om die grootte van die enkele dier aan te dui. Al die boeke het dieselfde gelyk, maar die laaste kind sou soms 'n boek kry wat anders was. Die kinders het om die beurt 'n antwoord oor die grootte gegee en die kind wat getoets is, is laaste gevra. Voordat hy of sy aan die beurt gekom het, was daar egter 'n groep kinders wat deel van die navorsers se span gevorm het. Soms het die kinders wat voor die getoetsde kind geantwoord het, almal 'n verkeerde antwoord gegee. Wanneer die laaste kind dan in die teenwoordigheid van die ander kinders gevra is, het daardie kind dikwels dieselfde antwoord as sy of haar portuurgroep gegee. Wanneer die kinders egter toegelaat is om hul antwoorde privaat vir die navorser te gee, het die kinders heelwat minder onder groepsdruk geswig en sodoende die belangrikheid van 'n portuurgroep se fisiese teenwoordigheid, wanneer dit by meningsvorming kom, geïllustreer.

Selfs klein kindertjies is vatbaar vir groepsdruk, maar daardie druk kan ook gebruik word om positiewe verandering mee te bring.

Adolessente

wysig

Adolessensie is die tyd wanneer 'n persoon die vatbaarste vir groepsdruk is, omdat portuurgroepe tydens adolessensie 'n belangrike invloed op gedrag uitoefen. Kinders wat hierdie tydperk betree word vir die eerste keer bewus van die ander mense rondom hulle en besef die belangrikheid van persepsie in hul interaksies. Die invloed van groepsdruk onder jongmense is die duidelikste sigbaar met betrekking tot styl, smaak, voorkoms, ideologie en waardes. Groepsdruk word algemeen met risikogedrag geassosieer, omdat hierdie soort gedrag gewoonlik in die geselskap van portuur plaasvind. Affiliasie met vriende wat risikogedrag toon kan 'n adolessent se eie gedrag beïnvloed en voorspel. Groepsdruk kan egter ook 'n positiewe uitwerking hê wanneer die portuurgroep positiewe gedrag aanmoedig, soos vrywilligerswerk of akademiese prestasie. Die belangrikheid van portuurgroepe neem af wanneer volwassenheid bereik word.

Hoewel sosiaal aanvaarde kinders dikwels die meeste geleenthede en die meeste positiewe ervarings het, dui navorsing daarop dat sosiale aanvaarding (om in die gewilde groep te wees) die waarskynlikheid vir risikogedrag verhoog, afhangend van die groep se norme. Gewilde kinders swig dikwels die maklikste onder groepsdruk omdat hulle die meeste waarde aan hul portuurgroep se opinies heg. Geslag speel ook 'n rol in die hoeveelheid groepsdruk wat 'n adolessent ervaar: meisies ervaar baie meer druk om by die groep in te pas.

Groepsdruk word algemeen as 'n groot bydraende faktor beskou wanneer dit by die gebruik van verskeie dwelmmiddels soos nikotien en alkohol kom, veral onder adolessente.

Groepsdruk het verskeie negatiewe gevolge. Dit kan tot depressie, ongewildheid, seksuele losbandigheid en dwelmmisbruik lei.

Sosiale Media

wysig

Sosiale media skep 'n massiewe nuwe digitale arena vir groepsdruk en invloed. Navorsing dui daarop dat sosialemediagebruik 'n verskeidenheid van voordele inhou, soos verhoogde sosialisering, blootstelling aan idees en meer selfvertroue. Daar is egter ook bewyse van negatiewe invloede, soos druk wat advertensies uitoefen, blootstelling aan onvanpaste gedrag en/of dialoog, en vals nuus. Hierdie soorte digitale groepsdruk kom onder die jeug, volwassenes en besighede voor. In sommige gevalle kan mense gedruk voel om 24/7 beskikbaar te wees of om perfek te wees. Gedrag en die invloed daarvan op sosiale media kan tot veranderinge in identiteit, selfvertroue, of gewoontes in die werklike lewe lei. Dit geld vir kinders, adolessente en volwassenes.

Bronne

wysig
  • Browning, Christopher R. (1998). Ordinary Men: Reserve Police Battalion 101 and the Final Solution in Poland (reprint uitg.). Harper Perennial. ISBN 978-0-060-99506-5.
  • Goldhagen, Daniel (1996). Hitler's Willing Executioners: Ordinary Germans and The Holocaust. New York: Alfred A. Knopf. ISBN 978-0-679-44695-8.
  NODES