Hudsonbaai

Nasa-Satellietbeeld van die Hudsonbaai

Kaart van die Hudsonbaai
Koördinate:60°N 85°W / 60°N 85°W / 60; -85
Ligging:Manitoba, Nunavut, Ontario, Quebec (Kanada)
Soort:See van die Arktiese Oseaan/Atlantiese Oseaan
Oppervlakte:1 230 000 km² (470 000 myl²)
Gemiddelde diepte:100 m (330 vt)
Maksimum diepte:270 m (890 vt)
Lengte:1 370 km (851,28 myl)
Breedte:1 050 km (652,44 myl)
Invloei:Albany, Churchill, Nelson, Nottaway, Severn
Uitvloei:Arktiese Oseaan/Atlantiese Oseaan
Eiland/e:Belcher-eilande, Coats-eiland, Mansel-eiland, Southampton-eiland
Nedersettings:Churchill, Sanikiluaq
Gevries:mid-Desember tot mid-Junie

Die Hudsonbaai (Engels: Hudson Bay, Frans: Baie d'Hudson) is 'n baai in die noordooste van Kanada. Sy uitgestrekte wateroppervlakte beslaan 1,23 miljoen vierkante kilometer, en die baai dreineer 'n baie groot gebied wat onder meer dele van Ontario, Quebec, Saskatchewan, Alberta, die grootste deel van Manitoba, dele van Noord-Dakota en Minnesota, en die suidooste van Nunavut insluit. 'n Kleiner tak van Hudsonbaai, Jamesbaai, lê in die suide.

'n Kaart van Rupert's Land wat deur die Britse Hudson's Bay Company beheer is
Die seehawe van Churchill (Manitoba)

Die Internasionale Hidrografiese Organisasie (IHO) lys Hudsonbaai in sy Special Publication 23 (Limits of Oceans and Seas, vierde uitgawe) as 'n deel van die Arktiese Oseaan. In die ooste word die baai deur die Hudson-seestraat met die Atlantiese Oseaan se Labradorsee verbind en in die noorde deur die Foxe-bekken (wat nie as deel van Hudsonbaai beskou word nie) met die res van die Arktiese Oseaan. In die noorde van die Hudsonbaai is Southampton-eiland, die grootste eiland, geleë. Ander eilande sluit in Belcher-eilande in die suidooste, Coats- en Mansel-eiland in die noorde. Sy geografiese koördinate is 78° tot 95° Wes, 51° tot 70° Noord.

In die Oostelike Cree-taal word die baai Wînipekw (suidelike dialek) of Wînipâkw (noordelike dialek) genoem, wat letterlik "brakwater" beteken. Die plaaslike Cree het 'n eenderse naam vir die Winnipegmeer.

Geskiedenis

wysig
 
Henry Hudson

Hudsonbaai is vernoem na Henry Hudson wat die baai in 1610 met sy skip Discovery verken het. Op sy vierde seereis het hy om die weskus van Groenland en uiteindelik na Hudsonbaai geseil en kaarte van die grootste deel van die ooskus geteken. Die Discovery het egter tydens die winter in die ys vasgevang geraak, en die bemanning moes aan land gaan waar hulle aan die suidelike punt van die Jamesbaai oorleef het. Toe die ys in die lente gebreek het, was Hudson van plan om die res van die gebied te verken. Op 22 Junie 1611 het sy bemanning egter gemuit.

Sestig jaar later het die skip Nonsuch die baai bereik en handel met die plaaslike Cree gedryf wat bewervelle aan die Europeërs verkoop het. Hierdie handelsbande het die aanleiding tot die stigting van die Hudsonbaai-kompanjie (Hudson's Bay Company) gegee wat hierdie naam nog steeds dra. Die Britse Kroon het aan die kompanjie 'n handelsmonopolie vir die Hudsonbaai-bekken (wat Rupert's Land genoem is) toegeken. Frankryk het hierdie monopolie aanvanklik betwis en 'n aantal militêre ekspedisies na die gebied gestuur, maar sy aanspraak in die Verdrag van Utrecht in April 1713 laat vaar.

Die Hudsonbaai-kompanjie het in hierdie tydperk verskeie forte en handelsposte langs die kus opgerig wat meestal by die mondings van groot riviere geleë was soos byvoorbeeld Fort Severn (Ontario), York Factory en Churchill (beide Manitoba). Die strategiese ligging van hierdie forte en poste het die verkenning van die binneland en veral ook die handel met inheemse volke vergemaklik. Die Eerste Nasies-stamme van die gebied het hul pelse na die handelsposte gebring van waar die kompanjie dit regstreeks na Europa vervoer het – wat oor 'n korter afstand bereik kon word as Montreal. Die kompanjie het tot by die vroeë 20ste eeu van hierdie handelsposte gebruik gemaak.

In 1870, toe die handelsmonopolie afgeskaf is, is die gebied met 'n oppervlakte van sowat 3,9 miljoen vierkante kilometer as deel van die Noordwes-gebiede aan Kanada afgestaan. Weens 'n verandering in die naamkonvensie staan Hudson's Bay in Engels nou amptelik as Hudson Bay bekend. Daar word egter nog steeds dikwels met die ou benaming na die baai en die kompanjie verwys.

Eksterne skakels

wysig
  •   Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Hudsonbaai.
  • (en) "Hudson Bay". Encyclopædia Britannica. Besoek op 5 Augustus 2020.
  • (en) "Hudson Bay". The Canadian Encyclopedia. Besoek op 5 Augustus 2020.
  NODES
INTERN 1