Isabela (Galápagos)

Eiland van die Galápagos-argipel

Isabela-eiland (Spaans: Isla Isabela) is die grootste van die Galápagos-eilande, met 'n oppervlakte van 4 586 vk km en 'n lengte van 100 km. Op sigself is die eiland groter as al die ander eilande in die reeks saam. Dit het 'n bietjie minder as 2 000 permanente inwoners. Die eiland lê oor die ewenaar.

Isabela-eiland

Die oorspronklike Spaanse naam van Isabela ([isaˈβela]) was Santa Isabela-eiland (Isla Santa Isabela of Ysla Santa Ysabel) ter ere van die Aragonese koningin Elizabeth van Portugal, wat op 24 Junie 1626 deur Pous Urbanus VIII heilig verklaar is. In 1892 is die eiland se naam formeel verander na Isabela-eiland, as deel van Ecuador se vierhonderdjarige viering van Columbus se eerste reis, na Columbus se beskermheer koningin, Isabella I van Kastilië.[1][2][3]

Geografie

wysig

Isabela-eiland is byna vier keer groter as Santa Cruz, die tweede grootste eiland van die argipel.

Geologie

wysig

Isabela is een van die jongste Galápagos eilande en aan die westelike rand van die argipel naby die vulkaniese Galápagos-brandpunt geleë. Isabela is ongeveer een miljoen jaar oud. Isabela is seeperdvormig en deur die samesmelting van ses skildvulkane; Alcedo, Cerro Azul, Darwin, Ecuador, Sierra Negra en Wolf gevorm. Al hierdie vulkane behalwe Ecuador is steeds aktief, wat die eiland een van die vulkanies aktiefste plekke op aarde maak. Twee van die vulkane, Volcan Ecuador en Volcan Wolf lê direk op die ewenaar.[4][5][6]

Fauna en Flora

wysig

Isabela is ook interessant vir sy fauna en flora. Die jong eiland volg nie die plantegroepatrone van die ander eilande nie. Die relatief nuwe lawavelde en omliggende gronde het nie die voldoende voedingstowwe ontwikkel wat nodig is om die uiteenlopende lewensvorme wat op ander eilande voorkom, te ondersteun nie. Nog 'n ooglopende verskil kom voor op Volcan Wolf en Cerro Azul; hierdie vulkane lig bo die wolkbedekking uit en is woestynagtig bo-op.

Isabela het 'n ryk voël-, diere- en seelewe. Isabela is die tuiste van meer wilde skilpaaie as al die ander eilande. Isabela se grootte en noemenswaardige topografie het versperrings geskep vir die stadigbewegende skilpaaie. Die skilpaaie is blykbaar nie in staat om lawastrome en ander hindernisse oor te steek nie, wat veroorsaak het dat verskeie verskillende subspesies ontwikkel het. Vandag loop skilpaaie vry rond in die kalderas van die vulkane Alcedo, Wolf, Cerro Azul, Darwin en Sierra Negra.

Ingevoerde bokke het tot meer as 100 000 vermeerder, maar is in 2006-2007 deur die Galápagos Nasionale Parkdiens en die Charles Darwin-stigting uitgeroei. Sedertdien het die plantegroei baie herstel.

Ander bekende spesies sluit in pikkewyne, kormorante, seelikkewane, malgasse, pelikane, Sally Lightfoot krappe, Galápagos landlikkewane, Darwin se vinke, Galápagos valke, Galápagos duiwe en baie interessante laagland plantegroei. Die weskus van Isabela in die Bolivar-kanaal is die beste plek in Galápagos om walvisse en dolfyne te besigtig.

Geskiedenis

wysig

Die nedersettings Puerto Villamil en Santo Tomás is in 1893 gestig. Teen 1905 was die bevolking van die eiland 200. Uitvoere was destyds swael ontgin uit fumarole, openinge in die vulkaniese oppervlak wat gasse laat ontsnap, en kalk wat uit koraal gemaak is. Skilpaaie is vir vleis en olie gebruik. Puerto Villamil, die derde grootste nedersetting van die argipel, is aan die suidoostelike punt van die eiland geleë.

Besienswaardighede

wysig

Die eiland se besienswaardighede sluit in die Muur van Trane (el Muro de las Lágrimas), wat deur gevangenes gebou is toe die eiland 'n strafkolonie was, en die Flamingo-strandmeer, vernoem na die flaminke wat daar gevind is. Albei is in die suide van die eiland.

Verwysings

wysig
  1. De la Fuente, Vicente (1744), Nueva y Correcta Carta del Mar Pacifico ó del Sur... [New and Improved Map of the Pacific or Southern Sea], Madrid .
  2. "Elisabetta (Isabella) di Portogallo [Elizabeth of Portugal"], Dicastero delle Cause dei Santi [Dicastery for the Causes of Saints], Vatican City: Holy See, 2023, http://www.causesanti.va/it/santi-e-beati/elisabetta-isabella-di-portogallo.html .
  3. "Isabela Island". Galapagos Conservation Trust. 21 Junie 2016. Besoek op 1 Junie 2020.
  4. "Darwin". www.volcanodiscovery.com. Besoek op 6 Februarie 2020.
  5. "Galapagos Islands - Urbina Bay". www.visitgalapagos.travel. Besoek op 6 Februarie 2020.
  6. Ruiz, Diego J.; Wolff, Matthias (1 Augustus 2011). "The Bolivar Channel Ecosystem of the Galapagos Marine Reserve: Energy flow structure and role of keystone groups". Journal of Sea Research (in Engels). 66 (2): 123–134. doi:10.1016/j.seares.2011.05.006. ISSN 1385-1101.
  NODES