Leiden (Nederlands: [ˈlɛidə(n)], ; Oudnederlands: Leyden) is die vyfde grootste stad van die Nederlandse provinsie Zuid-Holland. Slegs Rotterdam en Den Haag is heelwat groter met Dordrecht en Zoetermeer wat in werklikheid byna dieselfde bevolkingsgrootte as Leiden het. Dié stad is aan die Rynrivier geleë en vorm 'n enkele stedelike gebied met Oegstgeest, Leiderdorp en Voorschoten. Leiden beslaan 'n oppervlakte van 23,27 vierkante kilometer en het 124 093 inwoners (1 Januarie 2014), en die agglomerasie 254 000 inwoners.

Leiden
Stad
Die Ou Ryn met ophaalbrug
Die Ou Ryn met ophaalbrug
Vlag van Leiden
Vlag
Wapen van Leiden
Wapen
Byname: 
Sleutelstad
Ligging van Leiden in die provinsie Zuid-Holland en Nederland
Ligging van Leiden in die provinsie Zuid-Holland en Nederland
Koördinate: 52°9′N 4°29′O / 52.150°N 4.483°O / 52.150; 4.483
LandVlag van Nederland Nederland
Provinsie Zuid-Holland
Munisipaliteit Leiden
Eerste verwysing860
Stadstatus1260
Regering
 • TipeMunisipaliteit
 • BurgemeesterPeter Heijkoop (CDA)
Oppervlak
 • Stad23,27 km2 (8,98 vk. myl)
 • Land21,91 km2 (8,46 vk. myl)
 • Water1,36 km2 (0,53 vk. myl)
Hoogte0 m (0 ft)
Bevolking
 • Stad124 093
 • Digtheid5 664/km2 (14 670/vk. myl)
 • Stedelik
238 493
 • Metro
344 299
 Munisipaliteit, Januarie 2021; stedelik en metro, Mei 2014
TydsoneUTC+01:00 (MET)
 • SomertydUTC+02:00 (MEST)
Poskode
2300–2334
Skakelkodes071
Webwerfwww.gemeente.leiden.nl

Etimologie

wysig

Die naam Leithon is vir die eerste keer gebruik in 'n goederelys van die domkerk van Utrecht wat tussen 777 en 866 opgestel is.[6][7][8] Die ou spelling was Leyden. Volgens 'n gewilde, maar verkeerde verklaring is die naam Leiden afgelei van die Romeinse nedersetting Lugdunum Batavorum. In werklikheid was daardie nedersetting nie naby Leiden nie, maar naby Katwijk. Matilo was geleë naby Leiden. Hierdie stelling dateer uit 1500, toe tydens die Renaissance 'n hernieude belangstelling in die Romeinse tydperk ontstaan het.

Volgens 'n latere ondersoek op taalkundige gebied is die naam ontleen aan 'n Oudnederlands sterk naamwoord leitha wat te wyte aan slytasie van infleksie in Middelnederlands lede geword het.[9] Deesdae is ons gewoond daaraan om 'n skerp onderskeid te tref tussen natuurlike en gegrawe waterlope – laasgenoemde noem ons kanale. Dié verskil is in werklikheid gradueel. Reeds in die Middeleeue is die loop van riviere baie verander, byvoorbeeld deur draaie te sny om dreinering of skeepvaart te vergemaklik. 'n Samevattende naam vir sulke gedeeltelik of heeltemal gegrawe of opgegrawe waterlope is die woord lede wat oorspronklik dieselfde wortel gehad het as die meervoud onvolmaakte tydvorm van "leiden", in die betekenis van "gaan",[10] soos in (water)gang. Die word "lede" kom voor in baie plekname: Leerdam ("dam in die lede"), Haarlemmerliede ("lede in rigting van Haarlem"), Schipluiden ("met skepe bevaarde lede") en byvoorbeeld Westerlee ("wes geleë lede").[11]

Verbuig in datief meervoud word leitha verander in leithon en só word die betekenis "aan die" (datief) + water (meervoud). Hierdie betekenis pas by die situasie van die ou Leiden wat nie aan een rivier of waterweg geleë was nie, maar aan die linkeroewer van die Ryn, oorkant die plek waar die Mare uitmond in die Ryn wat van oos na wes vloei, terwyl die Mare die waterweg vorm na die noorde.[7][8][12]

Geskiedenis

wysig
 
Hooglandse Kerk, Leiden
 
Kaart van Leiden in 1652
 
De Valk Windmeulmuseum

Die stad het as 'n sogenaamde dykdorp aan die voete van 'n kunsmatige heuwel ontstaan, waar die Ou en Nuwe Rynriviere saamvloei. In die oudste vermelding van die stad, omstreeks 860, het dit as Leithon bekend gestaan. Die vesting van Leiden in die graafskap van Holland het in die 9de eeu ontstaan toe die Wikings oor Utrecht geheers het. Leiden is tot voor 1420 deur burggrawe en verteenwoordigers van die howe in Nederland regeer. In 1266 het Leiden stadsregte bekom.

In 1420 het hertog Jan van Beieren met sy goedgewapende leër van Gouda na Leiden marsjeer met die doel om die stad te verower. Hulle het vestings aangeval en binne 'n week die kastele van Poelgeest, Ter Does, Hoichmade, de Zijl, ter Waerd, Warmond en de Paddenpoel verower. Op 14 Junie van dieselfde jaar was Van Beieren se leër voor die mure van Leiden en op 17 Augustus het die stad na twee maande se besetting aan Van Beieren oorgegee. Die Sitadelgraaf Filips van Wassenaar is van sy ampte gestroop en hy het sy laaste jare in aanhouding deurgebring.

Leiden het in die 16de en 17de eeue floreer en was tydens die 'Goue Eeu' die tweede grootste stad naas Amsterdam. Teen die einde van die 15de eeu het die tekstielbedryf 'n belangrike rol in die Leidense ekonomie gespeel en na die uitsetting van die Spanjaarde het Leidse kledingstowwe oral bekend geword. Hierdie nywerhede het ook 'n belangrike rol tydens die Tagtigjarige Oorlog gespeel toe die Spanjaarde die stad van Mei tot Oktober 1574 beset het. Die inwoners van Leiden het egter weerstand teen die belegging gebied en die stad weer ontset. Vir hulle heldhaftige verdediging van die stad het Prins Willem van Oranje 'n jaar later in 1575 die Universiteit van Leiden gestig.

Sedert die laat 17de eeu het Leiden 'n ekonomiese insinking beleef wat toegeskryf is aan 'n dalende tekstielproduksie. In die tyd het die bevolking van Leiden gedaal van 'n beraamde 100 000 inwoners in 1640 tot 30 000 inwoners tussen 1796 en 1811. Die bevolkingsgetal het daarna weer geleidelik gegroei en teen 1904 was daar 56 044 inwoners.

Op 12 Januarie 1807 het 'n ramp die stad getref toe 'n skip, wat met buskruit gelaai was en aan die oostekant van die Rapenburg vasgemeer was, ontplof het. Ongeveer 150 mense is dood, terwyl honderde huise verwoes is, insluitende dié van die Elsevierdrukkersfamilie. Koning Lodewyk Napoleon Bonaparte het persoonlik ingegryp om slagofferhulp te koördineer. Die Van der Werffpark en die Kamerlingh-Onnes-laboratorium is later op die ruïnes van die ontploffing gevestig.

In 1842 is die spoorlyn tussen Leiden en Haarlem in gebruik geneem en later, in 1843, is Leiden per spoorlyn met Den Haag verbind. Hierdie spoorlyne het later bygedra tot 'n herlewing in Leiden se ekonomie, 'n verdere uitbreiding buite die grense die stad se 17de eeuse singels en nywerheidsontwikkelinge in 1920.

In April 1848 het die politikus Johan Rudolf Thorbecke (1798–1872) die Nederlandse grondwet in sy woning te Garenmarkt 9, in Leiden, geskryf.

In 1866 het 'n cholera-epidemie die stad getref wat in 1868 tot die oprigting van 'n Akademiese hospitaal (waar die Nasionale Volkekundige museum vandag staan) gelei het.

In 1883 is ganse Nederland geskud deur die arrestasie van die Leidse moordenares, Maria Catharina Swanenburg, ook bekend as die 'gifmengster' of die Goeie Mie. Sy het haar slagoffers, waarvan 27 dood en 'n verdere 54 kroniese gesondheidsprobleme ontwikkel het, met arseen vergiftig ten einde hulle versekerings- en erfgelde te eis. Sy is daarna skuldig bevind en in 'n gevangenis aangehou waar sy in 1915 gesterf het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Leiden swaar deur Geallieerde bombardemente getref. Die omgewing rondom die stasie en die Marekerk het verál erg deurgeloop.

Kultuur, wetenskap en kuns

wysig
 
Latynse Skool te Lokhorststraat waar Rembrandt van Rijn geleer het

Die einde van die Spaanse besetting word jaarliks op 3 Oktober gevier. Dit gaan met feestelikhede gepaard en tradisionele kosse soos witbrood, haring en hutspot. Die jaarlikse Rapenburgkonsert is 'n musiekhoogtepunt op die Leidse kultuurkalender.

 
Albert Einstein en Hendrik Antoon Lorentz in Leiden in 1921

Leiden is ook 'n belangrike inkopiesentrum en spog met een van die grootste inkopiestrate in Europe, te Haarlemmerstraat. Die Universiteit van Leiden is bekend vir allerlei ontdekkings, insluitende die Leidse fles, 'n kapasitor wat uit 'n glasfles gemaak is en deur Pieter van Musschenbroek in 1746 'uitgevind' is en hoewel dit eintlik die vorige jaar in Duitsland deur Ewald Georg von Kleist ontdek is, het die naam "Leidse fles" bekend geword.

'n Ander ontwikkeling is die van kriogenie. Heike Kamerlingh Onnes (1853–1926) het in 1913 'n Nobelprys in fisika verower, nadat hy in 1908 vir die eerste keer daarin geslaag om helium vloeibaar te maak en later om 'n temperatuur van minder as een graad bo die absolute minimum te bereik. Die beroemde fisikus, Hendrik Antoon Lorentz (1853–1928) wat in 1902 'n Nobelprys vir elektromagnetisme verwerf het, het ook in Leiden studeer en later professor aan die universiteit geword.

Op die kunsgebied is die wêreldbekende skilder, Rembrandt van Rijn (1606–1669) in Leiden gebore, waar hy 'n Latynse skool te Lokhorststraat bygewoon het en later aan die Universiteit van Leiden ingeskryf het. Hy was onder andere ook 'n leerling onder die Leidse historiese skilder, Jacob van Swanenburgh (1571–1631). Hy het ook later sy eie ateljee geopen saam met sy vriend en kollega, Jan Lievens voordat hy later na Amsterdam verhuis het. Die 17de eeuse skilder, Jan Steen (1626–1679), en landskapskilder, Jan van Goyen (1596–1656), is ook in Leiden gebore.

Leiden het bekende digters en skrywers opgelewer, te wete Piet Paaltjens, J.C. Bloem, Maarten Biesheuvel, Jan Wolkers, Constantijn Huygens en Maarten 't Hart, wat in die stad gewoon of studeer het.

Leiden is ook bekend vir sy muurgedigte in vele tale, wat in 1992 as 'n stadsprojek geloods is en fokus op die verhouding tussen taal en beeld.

Die Universiteit van Leiden

wysig
Hoofartikel: Universiteit van Leiden.
 
Academiegebouw, Universiteit van Leiden

Die Universiteit van Leiden is die oudste universiteit in Nederland en is in 1575 deur Prins Willem van Oranje gestig, leier van die Hollandse verset tydens die Tagtigjarige Oorlog. Die universiteit het nege fakulteite, meer as 50 departemente, meer as 150 voorgraadse programme en 40 nasionale en internasionale navorsingsinstellings. Die universiteit is internasionaal bekend en lok studente van regoor die wêreld.

Riviere, kanale en parke

wysig
 
Zijlpoort
 
Leidenkanaal

Die twee takke van die Ou Rynrivier, wat Leiden uit die ooste binnevloei, vloei in die middel van die stad ineen. Die stad word verder deur etlike kleinere, sombere kanale met boom-omgrensde kaaie verdeel.

Die Rapenburg is een van die mooiste en bekendste gragte in Leiden en is ongeveer in 1250 as 'n vestingsgrag gegrawe om die stad te beskerm. Talle statige geboue is sedertdien langs die grag gebou en die jaarlikse Rapenburgkonsert word op die grag gevier.

Suid van die stad is die Botaniese Tuine Hortus Botanicus, een van die oudste botaniese tuine in Nederland, wat in 1549 teenaan die Rapenburg opgerig is. Daar is ook ander tuine wat langs die ou Singel en buitekanale strek. Die Van der Werffpark is vernoem na burgemeester Pieter Adriaanszoon van der Werff, wat die stad in 1574 teen die Spanjaarde verdedig het. Die Leidse professor en tuinboukundige, Carolus Clusius (1526–1609), het die grondslag gelê vir Nederland se tulpebedryf.

Besienswaardighede

wysig
  • Die Pieterskerk[13] – Die grootste kerk in Leiden.
  • Boerhave Museum[14] – Nasionale museum vir die geskiedenis van wetenskap en medisyne.
  • Hortus Botanicus[15] – Botaniese tuine.
  • Die Hooglandse kerk.
  • Die Burg
  • Die Lakenhal Stedelijk Museum[16] – Munisipale museum.
  • Die Sterrewag[17]
  • Rijksmuseum van Oudheden[18] – Nasionale museum vir oudhede
  • Nationaal Natuurhistorisch Museum[19] – Nasionale natuurgeskiedenismuseum
  • Rijksmuseum voor Volkekunde[20] – Nasionale volkekundige museum
  • Stigting Molen de Valk[21] – Windmeulmuseum
  • Leidse Schouwburg[22] – Die oudste teater in Nederland, in 1705 geopen.
  • Die Marekerk[23] – Die kerk is in 1639 ontwerp en in 1650 in gebruik geneem.
  • Twee stadspoorte (Morspoort & Ziljpoort)
  • Nege windmeule
  • 35 aalmoeshuise.
  • Wagenmakersmuseum
  • Sieboldhuis[24] – Japannese kultuursentrum.

Vervoer

wysig

Leiden kan per trein deur die De Vink-, die Leiden Centraal- en Leiden Lammenschansspoorwegstasies bereik word. Die stad het ook 'n openbare busdiens.

Suid-Afrikaners in Leiden

wysig
 
Die kind van Ingrid Jonker as muurgedig in Leiden
 
Taalles van Elisabeth Eybers as muurgedig in Leiden

'n Aantal bekende Suid-Afrikaners het in Leiden gewoon en/of daar studeer:

  • Fransjohan Pretorius: Bekende geskiedkundige op die gebied van die Boere-oorlog het 'n doktorsgraad in Leiden voltooi.
  • Vernon February (1938–2002): Skrywer en akademikus het jare lank in ballingskap in Nederland gewoon en studeer en was later verbonde aan die Afrikastudiesentrum aan die Universiteit van Leiden.
  • Petrus Johannes van der Merwe (1912–1979): Eertydse geskiedkundige verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch van 1955 tot 1977. Hy het in 1937 'n doktorsgraad oor die Groot Trek aan die Universiteit van Leiden behaal.
  • Johannes Friedrich Wilhelm Grosskopf (1885–1948): Skrywer en akademikus aan die Universiteit van Stellenbosch van 1920–1935 het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden voltooi.
  • Henri Louis Gonin (1907–1997) – Akademikus en Latynkenner verbonde aan die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria het sy doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden voltooi.
  • Rachelle Conradie – Digter het aan die Universiteit van Leiden studeer.
  • Christiaan Willem Hendrik van der Post – Digter en lid van die Volksraad in die Vrystaat is in Leiden gebore.
  • Gerrit Viljoen (1926–2009) – Voormalige minister van Onderwys en Staatkundige Ontwikkeling het in 1955 'n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden behaal.
  • Nelson Mandela (1918–2013) – Vorige Staatspresident van Suid-Afrika is in 1999 deur die Universiteit van Leiden met 'n eredoktorsgraad bekroon.

Susterstede

wysig

Verwysings

wysig
  1. (nl) "Peter van der Velden waarnemend burgemeester Leiden". Zuid-Holland. 6 Julie 2023. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Desember 2023. Besoek op 10 Desember 2023.
  2. (nl) "Kerncijfers wijken en buurten 2020". Centraal Bureau voor de Statistiek. 24 Julie 2020. Besoek op 18 Mei 2024.
  3. (en) "Postcodetool for 2312AT". Actueel Hoogtebestand Nederland. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2013. Besoek op 21 September 2013.
  4. (nl) "Bevolkingsontwikkeling; regio per maand". Centraal Bureau voor de Statistiek. 1 Januarie 2021. Besoek op 18 Mei 2024.
  5. (nl) "Bevolkingsontwikkeling; Regionale kerncijfers Nederland". Centraal Bureau voor de Statistiek. 1 Januarie 2020. Besoek op 18 Mei 2024.
  6. (nl) Petrus Johannes Blok (1910). Geschiedenis eener Hollandsche stad (4 delen). Den Haag: M. Nijhoff. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Junie 2012. Besoek op 25 Junie 2012.
  7. 7,0 7,1 (nl) R.C.J. van Maanen (2002–2004). J.W. Marsilje (red.). Leiden : de geschiedenis van een Hollandse stad (4 delen). Leiden: Stichting Geschiedschrijving Leiden. p. 259. ISBN 9080675415.
  8. 8,0 8,1 (nl) Freek Lugt (2012). Het ontstaan van Leiden. Over de burggraaf, de ontginning, de opwas, het stadsrecht. Leiden: Primavera Pers. p. 288. ISBN 9789059971264.
  9. (nl) "Die Lee". Instituut voor de Nederlandse Taal. Besoek op 17 Mei 2024.
  10. (nl) M. Philippa e.a. "'Lijden'". Etymologisch Woordenboek van het Nederlands. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Augustus 2016. Besoek op 11 Augustus 2016.
  11. (nl) Riemer Reinsma (19 April 2011). Namen op de kaart: oorsprong van geografische namen in Nederland en Vlaanderen. Atlas Contact, Uitgeverij. pp. 10–11. ISBN 9789045017945. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 September 2021. Besoek op 9 September 2021.
  12. (nl) Petrus Johannes Blok (1910). Geschiedenis eener Hollandsche stad (4 delen). Den Haag: M. Nijhoff. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Junie 2012. Besoek op 25 Junie 2012.
  13. (nl) Die Pieterskerk
  14. (nl) Boerhave Museum
  15. (nl) Hortus Botanicus
  16. (nl) Die Lakenhal Stedelijk Museum
  17. (nl) "Die Sterrewag". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 September 2006. Besoek op 11 Augustus 2016.
  18. (nl) Rijksmuseum van Oudheden
  19. (nl) Nationaal Natuurhistorisch Museum
  20. (nl) "Rijksmuseum voor Volkekunde". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Januarie 2012. Besoek op 11 Augustus 2016.
  21. (nl) Stigting Molen de Valk
  22. (nl) Leidse Schouwburg
  23. (nl) Die Marekerk
  24. (nl) Sieboldhuis
  25. 25,0 25,1 25,2 25,3 25,4 25,5 (nl) "Stedenbanden en internationale samenwerking". Leiden. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Januarie 2018. Besoek op 21 Januarie 2018.

Bronne

wysig

Eksterne skakels

wysig

Universiteit

wysig
  NODES
INTERN 3