Moltrein
'n Moltrein (Engels: Underground, Subway, Tube, Nederlands: Metro) is 'n ondergrondse spoorwegvervoerstelsel in groot stede wat die middestad met die omliggende stedelike gebiede verbind. Dit bestaan uit 'n netwerk van lyne wat ondergronds in tonnels of bogronds op viadukte loop. Geen verkeer of ander spore kruis moltreinspore nie. Aan albei punte van 'n moltrein is 'n stuurkajuit sodat die trein in enige rigting kan beweeg. Gewoonlik is daar deure aan albei kante van die trein sodat passasiers op twee verskillende perrone kan afklim. Treine kan kort op mekaar volg omdat gevorderde sinjaalstelsels gebruik word. Hulle kan ook baie vinnig wegtrek en stilhou. Die moltrein is 'n vinnige, gerieflike vervoermiddel vir pendelaars vanaf verskillende voorstede na en van 'n stad of ander voorstede. Die grootste moltreinstelsels (meeste passasiers) is:
- Hierdie artikel handel oor die vervoerstelsel. Vir die Dan Roodt-roman, sien Moltrein (roman).
Stad | Jaar geopen | Afstand | Getal passasiers per jaar |
---|---|---|---|
Moskou | 1935 | 340 km | 3,2 miljard |
Tokio | 1927 | 281 km | 2,6 miljard |
New York | 1904 | 371 km | 1,9 miljard |
Seoel | 1974 | 278 km | 1,4 miljard |
Meksikostad | 1969 | 202 km | 1,4 miljard |
Parys | 1900 | 211 km | 1,2 miljard |
Osaka | 1933 | 114 km | 957 miljoen |
Londen | 1863 | 415 km | 866 miljoen |
Hongkong | 1979 | 82 km | 790 miljoen |
St. Petersburg | 1955 | 110 km | 721 miljoen |
Moltreinstasies
wysigDie meeste moltreinstasies lê gewoonlik ondergronds. As die lyn op viadukte loop lê hulle gewoonlik bokant die grond. Passasiers gaan met hysers of roltrappe af/op na die moltreinstasie toe. Die perrone is gewoonlik op dieselfde hoogte as die vloer van die spoorwegwaens.
Stede met die meeste moltreinstasies
Stad | Getal stasies |
---|---|
New York | 488 |
Parys | 368 |
Londen | 270 |
Tokio | 217 |
Moskou | 140 |
Geskiedenis
wysigDie eerste moltreinlyn ter wêreld is op die 10 Januarie 1863 in Londen opgerig en is deur 'n stoomlokomotief getrek. Die oorskakeling na elektrisiteit is voltooi nadat steenkoollokomotiewe se stoom en roet die stasies en die reisigers bevuil het. Die eerste moltrein op die Europese vasteland is in 1896 in Boedapest (Hongarye) opgerig. Die eerste spoorlyn van die Paryse Metro is tydens die aanloop tot die Wêreldtentoonstelling van 1900 opgerig en 'n paar maande na die aanvang van die tentoonstelling ingehuldig.
Geopen | Stad |
---|---|
1863 | Londen |
1886 | Liverpool |
1892 | Chicago |
1896 | Glasgow Boedapest |
1897 | Boston |
1898 | Wene |
1900 | Parys |
1902 | Athene |
1904 | New York |
1907 | Philadelphia |
1912 | Hamburg |
1913 | Buenos Aires |
-
Die Sjanghai Metro is die wêreld se grootste sneltrein volgens aantal ryers en stelsellengte.
-
Die "London Underground" is die wêreld se oudste ondergrondse stelsel.
-
Die "New York City Subway" is die wêreld se grootste sneltreinstelsel volgens aantal metrostasies, teen 472.
-
'n Bedrywige Paryse Metro stasieplatform in 2007
-
'n Stasie van die Guangzhou Metro in 2005
Bronne
wysig- Feitegids-'n Kernensiklopedie (Kaapstad: 2007)
- Wikipedia Duits: U-Bahn de:U-Bahn
- Wikipedia Afrikaans: Paryse Metro Paryse Metro
- Wikipedia Engels: London Underground en:London Underground
- Wikipedia Nederlands: Metro Vervoermiddel nl:Metro (vervoermiddel)
- Wikipedia Engels: Transportation en:Chicago