Paul Robeson
Paul Leroy Robeson ([ˈroʊbsən]; * 9 April 1898, † 23 Januarie 1976) was 'n Amerikaanse sanger, akteur, advokaat en aktivis wat by die Burgerregtebeweging betrokke geraak het. Tydens sy akademiese opleiding by die Rutgers-kollege, waarvoor hy 'n beurs ontvang het, was hy 'n uitstekende Amerikaanse voetbalspeler. Hy het sy LL.B.-graad by die Columbia-regsskool verwerf terwyl hy in die National Football League (NFL) gespeel het. Robeson was 'n tiental tale magtig.
Paul Robeson | |
---|---|
Paul Robeson in 1942 | |
Agtergrondinligting | |
Geboortenaam | Paul Leroy Bustill Robeson |
Gebore | 9 April 1898 Princeton, New Jersey, Verenigde State |
Sterf | 23 Januarie 1976 Philadelphia, Pennsilvanië, VSA |
Beroep(e) | Sanger, akteur, sosiale aktivis, advokaat, atleet |
Instrumente | Basbaritonstem |
Jare aktief | 1923-1963 |
In sy tyd as Columbia-student het Robeson reeds as sanger en akteur opgetree. Na graduering het hy by die Harlem Renaissance-beweging betrokke geraak en rolle in toneelstukke soos The Emperor Jones en All God's Chillun Got Wings vertolk. Vervolgens het hy 'n internasionale loopbaan as sanger en as toneel- en rolprentakteur begin. 'n Toneelrol in Londen het die aanleiding gegee vir sy meerjarige verblyf in die Verenigde Koninkryk saam met sy vrou Eslanda Goode Robeson ("Essie").
Internasionale gebeure en ontwikkelinge soos die Spaanse Burgeroorlog, die opkoms van fascisme in Europa en sosiale ongelykhede het sy belangstelling in politiek gewek. Sy anti-imperialistiese standpunt, sy affiliasie met kommunisme en die kritiek, wat hy op die Amerikaanse regeringsbeleid gelewer het, het daartoe gelei dat hy gedurende die McCarthy-tydperk op 'n swartlys geplaas is. Paul en Essie Robeson se vriendskaplike betrekkinge met die Sowjetunie (Robeson het sy eerste besoek aan die Sowjetunie op uitnodiging van die Sowjet-Russiese meesterregisseur Sergei Eisenstein gebring), hul aktivisme vir die burgerregte van swart Amerikaners en swart bevrydingsbewegings in Afrika het skerp reaksie van Amerikaanse regeringskant uitgelok. In 1950 is hul paspoorte ingetrek. Eers agt jaar later kon hulle weer na die buiteland reis nadat die Amerikaanse Hooggeregshoof bepaal het dat die reg op 'n paspoort vir elke Amerikaner in die Amerikaanse Grondwet verskans is.
Sy swak gesondheidstoestand het hom in 1963 genoodsaak om sy loopbaan voortydig te staak en af te tree. Sy vrou Essie is twee jaar na sy aftrede aan kanker oorlede. Gedurende sy laaste jare het hy in Philadelphia gebly en 'n teruggetrokke lewe gevoer. Terwyl hy geweier het om onderhoude te voer en briewe te wissel, het hy Suid-Afrika se rassebeleid skerp veroordeel - 'n standpunt waarvoor hy in 1978 postuum vereer is.
Terwyl Europese gehore hom in onder meer Londen, Parys en Moskou eufories gevier het, het hy die laat eerbewyse van sy eie geboorteland nie meer beleef nie. Sy afsterwe in 1976 "marked the passing of the perhaps most important American cultural and political figure in the twentieth century", aldus die historikus Acklyn R. Lynch wat op Afrika-studies fokus.[1]
In 1995 is hy in die College Football Hall of Fame opgeneem, in 1998 met 'n Grammy vir sy lewenswerk en met 'n spesiale posseël van die Amerikaanse Posdiens as deel van die Black Heritage-reeks vereer, terwyl 'n kulturele sentrum op die kampus van Penn State University en 'n hoërskool in Brooklyn vandag sy naam dra.[2]
Hy word onthou vir sy kenmerkende diep en sonore basstem, as een van die vernaamste vertolkers van Eugene O'Neill se toneelstukke, as meesterlike vertolker van Othello (wat ook die laaste rol was wat hy in 1959 in Stratford-upon-Avon gespeel het), as kampvegter vir die regte van Walliese mynwerkers, en as 'n simboolfiguur vir menseregte en swart bewussyn.
Eerbewyse deur die Duitse Demokratiese Republiek
wysigIn die Verenigde State se rassistiese klimaat gedurende die 1920's is Paul Robeson nooit 'n kans gegun om sy Amerikaanse droom van 'n loopbaan as advokaat en professionele voetbalspeler te verwesenlik nie. Sy enigste perspektief was 'n loopbaan as sanger en akteur. Die vernedering, wat hy in sy geboorteland ervaar het, kontrasteer met die verering wat hy in sosialistiese Europese lande geniet het.
Die Humboldt-universiteit te Berlyn se Filosofiese Fakulteit het aan Paul Robeson op 5 Oktober 1960 'n eredoktorsgraad toegeken as
Fortführer der Tradition Thomas Jeffersons, des Kämpfers gegen die Sklaverei John Brown, des Negerrevolutionärs Frederick Douglas, Abraham Lincolns und Franklin Roosevelts.[3]
Die DDR-posdiens Deutsche Post het Paul Robeson postuum met 'n spesiale posseël vereer wat op 22 Maart 1983 uitgereik is. Die seël het die opskrif Vir vrede - teen rassisme in Duits, Russies en Engels gedra.[4]
Paul Robeson het dankbaarheid betoon vir al die gunsbewyse. In 1960 het die DDR-staat ongewone lof ontvang:
I have seen the real Germany, the human Germany, humane Germany. Those who are inheritors, yes, of Beethoven's "Alle Menschen werden Brüder".[5]
Verwysings
wysig- ↑ Maria Schubert: «We Shall Overcome». Die DDR und die amerikanische Bürgerrechtsbewegung. Paderborn: Ferdinand Schöningh 2018, bl. 82
- ↑ Internet Movie Database: Paul Robeson. Besoek op 9 Maart 2016
- ↑ Humboldt-Universität zu Berlin: Paul Robeson zu Gast Unter den Linden. Besoek op 17 Augustus 2020
- ↑ Suche-briefmarken.de: Briefmarke Paul Robeson (DDR). Besoek op 17 Augustus 2020
- ↑ Schubert (2018), bl. 81
Agtergrondliteratuur
wysig- Joy Gleason Carew: Blacks, Reds, and Russians. Sojourners in Search of the Soviet Promise. New Brunswick, New Jersey, and London: Rutgers University Press 2008
- Gerald Horne: Paul Robeson. The Artist as Revolutionary. London: Pluto Press 2016
- Allison Blakely: Russia and the Negro: Blacks in Russian History and Thought. Washington, DC: Howard University Press 1986
Eksterne skakels
wysig- Biografiese inligting
- The Intercept, 15 Julie 2020: The Revolutionary Life of Paul Robeson: Scholar Gerald Horne on the Great Anti-Fascist Singer, Artist, and Rebel
- Deutsche Welle (dw), 18 Julie 2020: Kulturgeschichte - Vergessener afroamerikanischer Weltstar: Paul Robeson
- JSTOR Daily, 6 Februarie 2018: Why Paul Robeson Was Labelled a Psychopath
- Paul Robeson in Moskou
Amerikaanse opinies
- The New York Times, 21 Augustus 2017: Red Century - When the Harlem Renaissance Went to Communist Moscow
- The American Interest, 27 Augustus 2019: Intellectuals and Communism - The Price of Self-Delusion
- The Seton Hall University History Department Blog: Paul Robeson's Tragic Love of Russia
- Los Angeles Times, 19 November 2014: Great Read: In Russia, early African American migrants found the good life
Russiese opinies
- Russia Beyond, 27 September 2018: The African-American ‘psychopath’ who sang the Soviet anthem and was crucified for it (VIDEO)
- YouTube/RT: Legacy of Paul Robeson
- Akademie der Künste Berlin
- Paul-Robeson-koor te Berlyn
- Musiekloopbaan
- Media